Pro Enviro - Environmental Assessment Practitioners

Veldbrande en die wet kan jou skroei - Adv. Douw Venter, Pro Enviro Omgewingsimpakpraktisyns
Outeur | Author: Douw Venter
Veldbrande en die wet kan jou skroei  - Adv. Douw Venter, Pro Enviro Omgewingsimpakpraktisyns
Dis weer daardie tyd van die jaar: winter en veldbrande net waar jy kyk! Vir die kleinhoewe-eienaar en veral plaasboer is veldbrande niks nuut nie. Die vraag is nie of dit gaan brand nie, maar wanneer?

Alhoewel die boer gewoonlik die basiese toerusting besit om voorbrande te maak en dit wel op sy manier maak, weet min boere dat die versuim om betyds voorbrande te maak (of glad nie te  maak nie), die boer oop laat vir strafregtelike vervolging en moontlike siviele eise vir skade aangerig!

Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, Wet 101 van 1998, plaas ’n verpligting op alle bewoners (en nie net grondeienaars nie) om jaarliks voorbrande om hulle grond te maak en sodanige brandstroke deurgaans in stand te hou.

Brandstroke moet vry van enige plantmateriaal (gras en bome) wees en boere is verder verplig om die nodige brandbestrydingstoerusting aan te hou en sorg te dra dat hulle werknemers te alle tye opgelei is om sodanige toerusting te hanteer.

Brandbestrydingstoerusting moet te alle tye in ’n goeie werkende toestand wees. 'n Boer is verder verplig om, sou ’n brand op sy grond ontstaan, voorsorg te tref om te keer dat sodanige brand versprei en die buurplase afbrand.

Waar ’n boer versuim om behoorlike brandstroke te maak en daar ontstaan ’n vuur op sy plaas en brand naburige plase af, dan is die boer aanspreeklik vir gevolgskade (vir heiningmateriaal, boorde, oeste en of geboue wat afgebrand het of vir die verlies aan wild en of vee wat doodgebrand het). Strafregtelike vervolging is ook nie uitgesluit nie en onkunde aangaande die bestaan van bogemelde wetgewing is nie ’n verskoning nie.

Die wet is nie spesifiek oor hoe ’n voorbrand gemaak moet word nie, maar die brandstrook moet, afhangende van die tipe veld, bos of terrein, breed en lank genoeg wees. Boere brand gewoonlik stroke veld al langs hulle grense en sommige doen dit meer deeglik deur die sny van gras, waarna die grond gedis, geskoffel of geploeg word. Ander gebruik onkruiddoder om voorbrande te maak.

Waar stroke veld gebrand word, moet die boer vooraf kennis gee aan sy bure en plaaslike brandbeskermingsvereniging (as daar so iets in die omgewing bestaan). ’n Vuur wat deur sterk wind aangeblaas word, kan maklik oor ’n teerpad spring en dit is daarom raadsaam om die voorbrand minstens 5 meter wyd te maak (aan elke kant van ’n heining).

Dit is verder ’n goeie gedagte om “interne” voorbrande te maak, veral om krale, geboue en kweekhuise en selfs tussen kampe. Wanneer kampheinings gespan word, is dit raadsaam om kamphekke so te plaas dat vee voor ’n brand uit gejaag kan word, met ander woorde van kamp tot kamp in plaas daarvan om drade te knip.

Daar is ’n wye reeks brandbestrydingstoerusting in die mark beskikbaar en wissel van basiese toerusting soos “vuurplakslaners” of rugsakspuite na meer gevorderde toerusting soos watersleepwaens met hoëdruk-enjinspuite.

’n Brandbeskermingsvereniging (BBV) moet ’n veldbrandbestuurstrategie ontwikkel en toepas, strategieë en aksies met aangrensende BBV's koördineer, reëls vir lede neerlê, die opleiding van lede ten opsigte van die bestryding van brande organiseer en brande so ver moontlik bestuur en voorkom, asook inligting verskaf oor toerusting en tegnologie. Met die uitsondering van munisipaliteite en die staat is lidmaatskap vrywillig. Munisipaliteite moet toesien dat hierdie verenigings in hulle gebiede volgens wet gestig en onderhou word.

Nog ’n punt van belang: Gestel daar ontstaan ’n vuur op een van die buurplase. Jou buurman is nie tuis nie en jy merk dat daar diere is wat gaan doodbrand aangesien niemand in beheer is nie. Daar het nou ’n noodtoestand ontstaan en ten einde die diere te red, moet jy drade knip om die diere te red. Jou buurman kan nie na die tyd ’n klag van opsetlike saakbeskadiging by die polisie gaan lê omdat jy sy drade geknip het of selfs ’n deur afgebreek het om besittings van die vlamme te red nie. Jy het in ’n noodtoestand opgetree wat ’n regverdige verweer teen so 'n aanklag sal wees.

Die wet sê dat jy in die proses van brandbestryding enige grond mag betree, enige bome, gras, oesgewasse of ander plantegroei mag vernietig, by enige perseel mag inbreek, of enige voertuig of ander werktuig mag verwyder in die uitvoering van jou brandbestrydingspligte.

Wees gewaarsku! Daar is heelwat boere in ons land wat in die verlede tussen R1- en R2-miljoen moes opdok vir skadevergoedingseise. Van hulle moes noodgedwonge hulle plase verkoop!

Geen Kommentaar gelewer | No comments posted...
Lewer Kommentaar | Leave a Comment
* Naam | Name
* E-Pos | Email (will not be published)
*
* Verifikasiekode | Enter verification code
* - Vereiste velde | Reqiured fields
 
 

 

© 2012 - 2015 PRO ENVIRO.  All rights reserved.

 

RSS Feed

 

HomeAbout UsClientsEnvironmental ServicesTown Planning ServicesContact UsArticlesLinks

 

 

Designed  by Equadoor | Webmaster

 

Top of Page